Djokovic sal weer nommer een wees

Novak Djokovic van Serwië kan moontlik die eerste plek op die wêreld-ranglys op die Amerikaanse Ope herwin nadat hy die heersende nommer een, Carlos Alcaraz van Spanje, die naweek in die Cincinnati-meesterstoernooi geklop het. Alcaraz is slegs 20 punte voor Djokovic op die ranglys nadat hy Sondag ’n kampioenskapspunt verbrou en toe die wedstryd verloor het. Dit beteken Djokovic hoef net na die tweede ronde op Flushing Meadows in New York deur te dring om weer boaan die ranglys te wees. Die vierde en laaste Grand Slam-toernooi van 2023 begin Maandag.