Inwoners van Zambezi gee GRN sperdatum van 15 September oor Bwabwata

Die stryd oor die Bwabwata Nasionale Park duur voort. Daar is verskeie stamme in die Kavango Oos-streek wat toegang tot die park eis, onder meer die Hambukushu wat sê dit is hul voorvaderlike grond. Hulle dring daarop aan dat die regering hulle as eienaars van die park en die gebied erken. Nou raak gemeenskappe in die Zambezi-streek haaks omdat die inwoners van Kavango Oos by die park ingetrek het en hulle daar vestig. Die Mafwe, Mashi en die Barakwena  van die Zambezi eis ook eienaarskap van die park. Plaaslike media berig dat die gemeenskappe die regering tot 15 September gee om die sogenaamde onwettige besetting van die park reg te stel of hulle sal self ook in die park gaan woon. Die proklamasie van die park in 1999 is sedert sy bestaan uiters omstrede en daar word berig dat tradisionele owerhede ook gemeenskappe in die park hervestig.