‘Profeet’ Babi appelleer vandag, wil nie 27 jaar sit vir stropery nie

Die renosterstroper en selfverklaarde profeet Jackson Babi, appelleer vandag teen sy vonnis van 27 jaar vir renosterstropery. Hy is in September verlede jaar op Gobabis op 11 klagte skuldig bevind. Hy is in Mei 2020 in Kleine Kuppe in hegtenis geneem na ‘n klopjag op sy huis en renosterhorings wat daar gevind is, hom verbind het aan die stropery van twee renosters naby Gobabis. Babi het ook gepoog om die ondersoekbeampte om te koop met 13 000 Namibiese dollar om borg vir hom te verseker. Sy saak kom voor die adjunk-regterpresident Hosea Angula voor. Die eienaar van die plaas waar Babi die renosters gestroop het, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat en sy ontsteltenis oor die appèlsaak uitgespreek. Hy sê dat hul renosterkoei ná twee maande beswyk het aan haar kweswonde en haar groter bulkalf is doodgeskiet en beide horings is verwyder.