Ondersoek na reuse-korrupsie by Tembisa-hospitaal verwelkom
Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie, Saftu, verwelkom President Cyril Ramaphosa se proklamasie wat die Spesiale Ondersoek-eenheid se gesag uitbrei om beweerde korrupsie van ‘n miljard Suid-Afrikaanse rand by die Tembisa-hospitaal in Gauteng te ondersoek. Vorige ondersoeke het onreëlmatighede en korrupte bedrywighede aan die lig gebring. Die eenheid beoog om geld wat wanbestee is op te spoor en dop-maatskappye en opgeblase verkrygings-pryse te ondersoek. Woordvoerder Trevor Shaku sê terwyl Saftu wag dat die omvattende opdrag in die Staatskoerant gepubliseer word, verwag hy dat die eenheid die geldspoor sal volg en begunstigdes sal blootlê, insluitende beweerde ANC-finansiering.