Ally Angula ook teen uraanontginning gekant
Ally Angula, die omstrede voormalige uitvoerende direkteur van die finansministerie, het haar teenstand teen die ontginning van uraan in die Stampriet-bekken bekend gemaak. Angula, ‘n direkteur van Leap Investments wat talle sake vir uitstaande skuld in die hof beveg, het in Mei haar kandidaatskap vir die presidensie aangekondig. Sy is tot dusver nog net aktief op Twitter. Sy sê die gebied van Stampriet het die potensiaal om gewasse vir die land te verbou wat sal bydra tot voedselsekerheid. Sy meen die regering moet sekere gebiede in die land uitsit as gebiede waar geen mynbedrywighede mag plaasvind nie – veral gebiede waar boerdery suksesvol bedryf kan word. In haar mening kan die Russiese mynbedrywighede geensins die land vir die volgende 100 jaar voed nie, maar landbou kan. Dit, in haar mening, is wat beste vir Namibië is.