TransNamib se bestuur, infrastruktuur onder die loep

Die Parlementêre Staande Komitee vir Ekonomie het ‘n rits streeksbesoeke afgehandel met die klem op spoorweg-infrastruktuur en TransNamib. Die komitee sê die maatskappy moet beter dienste lewer en ‘n geïntegreerde meesterplan daarstel om opbrengste op beleggings te verbeter. Die besoeke volg op aanbevelings aan TransNamib deur die lynministerie om ‘n meesterplan in te stel wat lug-, pad-, spoor- en maritieme vervoer integreer. Aan die einde van die besoek sal die komitee ‘n verslag saamstel wat sal sentreer rondom uitdagings rakende spoorweg-infrastruktuur, gebiede wat verbetering benodig, ontwikkeling en ekonomiese beplanning. TransNamib sukkel in onlangse jare met talle uitdagings, veral as gevolg van wanbestuur sedert onafhanklikheid.