Internasionale Jeugdag word te midde van reuse-uitdagings herdenk
Internasionale Jeugdag word wêreldwyd vandag herdenk maar daar is min om in Namibië te vier. Regerings is vinnig om aanmerkings te maak oor hoe belangrik die jeug is maar, plaaslik, nes in talle ander Afrika-lande, is daar groot uitdagings. Namibië het ‘n baie groot jong bevolking met meer as 70 persent wat 34 jaar oud en jonger is maar, daar is uiters min werksgeleenthede. Volgens die jongste peiling wat in 2020 uitgevoer is, staan die jeugwerkloosheidsyfer op 46,1 persent, met diegene tussen die ouderdomme van 20 en 24 jaar wat die meeste geraak word. Hierdie hoë koers van jeugwerkloosheid is ‘n bekommernis aangesien dit die land se potensiaal beperk om ekonomiese groei en ontwikkeling te bewerkstellig. Dit word ook as een van die grootste politieke uitdagings vir die Swapo-party geag en op ‘n maatskaplike vlak, bring dit ook reuse-uitdagings.