Produsente belê N$6m tot dusver, in Savanna

Veeprodusente se aandele in Savanna Beef Processors het vandeesweek die 90 persent-kerf verbygesteek, met beleggingsaansoeke van boere van amper 6,5 miljoen Namibiese dollar tydens die derde beleggingsronde. Dit beteken boere se totale aandele in die abattoir beloop meer as 180 miljoen dollar. Die derde beleggingsronde is op 14 Julie vanjaar oopgemaak om die oorblywende net meer as 26 miljoen dollar in te samel. Savanna se bestuurskomitee sê veeprodusente is gretig om te belê, en ‘n stormloop word teen 23 Augustus verwag wanneer die maatskappy sy algemene jaarvergadering hou. Die derde beleggingsvenster sluit weer om 12-uur die middag op 7 September met resultate wat rondom 14 September bekend gemaak sal word.