Maree se verhoor tot September uitgestel, nuwe prokureur
Die verhoor van die vermeende pedofiel, Johann Maree, sal eers in September in die Windhoekse hoërhof hervat nadat die staat ‘n nuwe regshulp-prokureur aangestel het om hom te verteenwoordig. Meriam Kandoni vervang Tuna Nhinda, wat aan regter Philanda Christiaan gesê het Maree se instruksies is onhoudbaar. Die 52-jarige voormalige polisieman staar 75 aanklagte in die gesig. Maree is in 2020 in hegtenis geneem op klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het. Onder die 75 klagtes is daar 24 van verkragting, tien van die vervaardiging van kinderpornografie, 18 van mensehandel en 13 van drank aan minderjariges verskaf.