Man wat sy tante doodslaan en -skop, kry 18 jaar
Die saak wat groot opslae in 2020 gemaak het, met berigte uit Kavango Wes dat ‘n 23-jarige man sy ma doodgeslaan en geskop het, het tot ‘n einde gekom in die hoërhof. Kandjimi Katjotjo het eintlik sy tante, die 57-jarige Behatta Nipembe op 12 Junie 2020 met ‘n tuisgemaakte donkie-leiband geslaan en geskop en uiteindelik haar dood veroorsaak omdat haar lewer gebars het. Regter Petrus Damaseb het hom tot 18 jaar tronkstraf gevonnis. Die regter sê Katjotjo is ‘n gevaar vir die samelewing en het sy tante op die wreedste manier moontlik doodgemaak. Sy het hom blykbaar daarvan beskuldig dat hy ander mense se donkies ry en veroorsaak dat hulle wegraak.