Nog ‘n sakeman bygevoeg by belastingontduiking-saak
Namibiese sakeman Salmon Heita is by die twee verdagtes gevoeg in die beweerde bedrog- en belasting-ontduikingsaak van 14 miljoen Namibiese dollar wat tans deur die Walvisbaai-polisie en die Namibiese Inkomste-agentskap ondersoek word. Heita het in die Walvisbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, belastingontduiking, rampokkery en geldwassery. Die aanklagte is soortgelyk aan dié waarop Chunga Matengu en die klaringsagent, die 37-jarige Amon Haukongo teregstaan. Hulle is in Julie in hegtenis geneem. Volgens inspekteur Ileni Shapumba in die Erongo-streek volg die arrestasie van die trio op ‘n uitgebreide gesamentlike ondersoek deur die agentskap en die polisie. Die beweerde bedrog is tussen 2021 en 2023 gepleeg, waartydens hulle glo verbode goedere ingevoer het.