Imran Khan mag vir 5 jaar geen openbare amp beklee nie

Die voormalige eerste minister van Pakistan, Imran Khan, is verbied om vir die volgende vyf jaar ‘n openbare amp te beklee. Die besluit is deur die Verkiesingskommissie van Pakistan aangekondig, drie dae nadat Khan drie jaar tronk toe gestuur is vir korrupsie. Dit beteken hy sal as lid van die Parlement afgedank word en tot 2028 nie vir ‘n openbare amp kan staan nie. Khan hou vol die aanklagte is polities gemotiveerd. Hy is in 2018 as Pakistan se leier verkies, maar is verlede jaar in ‘n mosie van wantroue ontsetel. Khan word tans in ‘n tronk naby Islamabad aangehou.