Plaasboer gearresteer na vermeende stroper geskiet is
Die Namibiese polisie in die Otjozondjupa-streek sê ‘n plaaseienaar is gearresteer na hy vermoedelik ‘n stroper doodgeskiet het. Volgens die mag het die man saam met sy werker gepatrolleer en spore gevind. Hulle het die spoor gevat en rondom sewe-uur die aand op ‘n man afgekom wat weggehardloop het. Die boer het blykbaar twee skote in die lug afgevuur omdat die stropers op hom en sy werker geskiet het. Dit het voortgeduur tot na donker. Sondagoggend het die man en sy werker teruggekeer na die plek waar die skietery plaasgevind het en ‘n liggaam, met draadstrikke, sy wapen en ammunisie-doppe by hom, is gevind. Die polisie is ingeroep. Die mag sê die twee ander vermeende stropers wat saam met die oorledene was is ook in hegtenis geneem en hulle verklarings is ook reeds verkry. Die plaaseienaar sal na verwagting vandag in die hof op Otavi verskyn.