Trump op dun ys oor dreigemente op sosiale media

Amerikaanse oudpresident Donald Trump is op dun ys omdat hy ‘n aanmaning om in sy spoor te trap, klaarblyklik op sosiale media verontagsaam het. Trump is Donderdag in Washington DC amptelik aangekla op vier aanklagte wat verband hou met sy vermeende rol in die oproer van 6 Januarie 2021. Hy staar altesaam 78 aanklagte in verskeie sake in die gesig. Trump het die aanklaers in die saak laat regop sit toe hy op sy sosiale platform Truth Social in hoofletters geskryf het: “As jy vir my kom, sal ek vir jou kom.” Dit het die hoof-aanklaer Jack Smith genoop om dadelik ‘n aansoek te begin vir ‘n beskermingsbevel teen Trump, omdat hy bekommerd is dat getuies dalk die hasepad uit vrees kan kies.