SA vervoerminister sê taxi-staking eindig môre

Die Suid-Afrikaanse minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, sê taxibestuurders in die Wes-Kaap sal na verwagting môre hul bedrywighede hervat. Die taxiraad Santaco se lede staak sedert Donderdagmiddag uit protes teen Kaapstad se munisipale regulasies oor verkeersoortredings, asook oor taxi’s wat geskut word. Ses busse is aan die brand gesteek en voertuie op verskeie hoofweë is met klippe bestook. Duisende pendelaars is gestrand gelaat en leerders kon nie skool toe gaan nie. Chikunga sê sy het met Santaco vergader oor die uitdagings in die bedryf. Sy sê die taxiraad het onderneem dat sy werkers môre sal terugkeer.