Netbal: Proteas ding mee om vyfde plek teen Uganda

Netbal: Die Proteas speel vandag hul laaste wedstryd by die netbalwêreldbeker in Kaapstad. Die Proteas speel teen Uganda in die uitspeelstryd om die vyfde plek. Die twee spanne is die afgelope tyd die twee beste spanne in Afrika. Hoewel die Proteas die She Cranes in die laaste groepswedstryd geklop het, het die span van Oos-Afrika die Suid-Afrikaners behoorlik laat klippe kou in die derde en vierde kwart. Uganda het Suid-Afrika boonop verlede jaar in die Statebondspele geklop, toe hulle ook om die vyfde plek uitgespeel het. Die wedstryd vandag begin elfuur. Om vieruur speel Nieu-Seeland teen Jamaika vir die bronsmedalje, terwyl Australië en Engeland sesuur afgooi vir die eindstryd.