Vyfjarige seuntjie sterf ná hy naald insluk
‘n Vyf-jarige seun is Vrydagaand in die Onamundindi-nedersetting naby Ogongo in die Omusati-streek dood nadat hy ‘n naald ingesluk het. Volgens ‘n verslag van die Namibies polisie is die seun by die huis dood nadat hy begin hoes het en hy nie kon praat nie. In ‘n ander voorval het ‘n bejaarde man in die Otavi-aanklagkantoor gesterf. Volgens die polisie van die Otjozondjupa-streek is die 71-jarige man Vrydagaand omstreeks nege-uur deur ‘n onbekende man in ‘n straat gevind. Die polisie is in kennis gestel wat hom in die aanklagkantoor ingeneem om daar te oornag aangesien daar waargeneem is dat hy onder die invloed van alkohol was. Die bejaarde het glo tekens begin toon dat hy nie gesond is nie en is omstreeks tien-uur deur polisielede na die kliniek geneem waar hy met aankoms dood verklaar is. Die oorsaak van sy dood is op die oomblik onbekend, maar sal deur ‘n nadoodse ondersoek bepaal word. Sy naasbestaandes moet nog van sy dood ingelig word.