Voertuighuur vir sensus moet drasties besnoei word
Die kabinet het ‘n opdrag aan alle ministeries en agentskappe uitgereik om aktief by te dra tot die suksesvolle aanbieding van vanjaar se Nasionale Bevolking- en Behuisingsensus. Die sensus begin op 18 September en sal tot 3 November duur. Volgens die inligtingsminister dr. Peya Mushelenga, doen die Namibiese Statistieke-agentskap ‘n beroep op die onderwysministerie om klaskamers en koshuise by geskikte skole vir die sensus beskikbaar te stel. Alle ministeries, staatskantore en agentskappe word versoek om van hul voertuie aan die agentskap beskikbaar te stel om die sensusbegroting op voertuighuur drasties te verminder. Mushelenga sê ook personeel op direkteursvlak moet vrygestel word wat hul dienste gratis aan die agentskap wil bied ter ondersteuning van die sensuswerk.