Sokker: Skares stroom na Wêreldbekertoernooi vir Vroue
Sokker: Fifa het aangekondig die skare-getalle by die Wêreldbekertoernooi vir Vroue is byna 30 persent hoër as in 2019. Die wêreld-beheerliggaam sê die toernooi in Australië en Nieu-Seeland het op talle maniere die verwagtinge oortref. Bykans een-miljoen-223-duisend ondersteuners het ná 48 wedstryde deur die hekke beweeg. Dit is ‘n toename van 29 persent in vergelyking met dieselfde fase van die toernooi in Frankryk vier jaar gelede. Die gemiddelde skare vir wedstryde is net meer as 35 000. Meer as 1,7 miljoen kaartjies is tot dusver verkoop, wat die toernooi se aanvanklike teiken van 1,3 miljoen oortref.