DA eis volledige verslag van Lady R
Die DA sê hy veroordeel ten sterkste die regering se poging om gedeeltes van die verslag oor die Russiese vragskip, Lady R, selektief bekend te maak. Bewerings van wapensmokkelary toe die vaartuig in Desember in Simonstad vasgemeer het, het tot die ondersoek gelei. Die party glo die regering se weiering om die volledige verslag vry te stel, veroorsaak agterdog en twyfel oor sy voornemens, ondanks sy bewerings van niks onwettig wat op die skip gelaai is nie. Die DA-lid, Kobus Marais, dring aan op volle openbaarmaking om die saak af te handel.