Tifoon Khanun tref suide van Japan
Bykans 700 000 mense is aangeraai om hul huise te ontruim en sowat 900 vlugte is gekanselleer nadat die tifoon Khanun die suide van Japan getref het. Meer as 200 000 huishoudings op die Okinawa-eilande is weens die storm sonder krag. Een sterfte is sover aangemeld, en minstens 11 mense is beseer. Khanun is die derde tifoon wat oos-Asië die afgelope paar weke tref ná die tifone Talim en Doksuri. Minstens 34 mense is sover in China weens Doksuri dood en die swaarste reënval in 140 jaar is die afgelope dae in Beijing aangeteken. Doksuri het ook meer as 30 sterftes in die Filippyne en Taiwan tot gevolg gehad.