Skakel die ligte af, ons weet nog nie wat dit kos nie!July 31, 2023
Dit is steeds onbekend presies hoeveel meer inwoners van Stad Windhoek, of verskeie ander plaaslike owerhede, vir elektrisiteit sal betaal. Volgens die stad se woordvoerder, Celie Kapolo, wag hulle steeds om te hoor van die Elektrisiteitsbeheerraad. Die munisipaliteit het aansoek gedoen vir ‘n 14 persent verhoging maar, die aansoek is blykbaar, soos talle ander, laat ingedien. Die raad se woordvoerder, Ferdinand Molale, het verlede week aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die goedkeuring van die verhogings, wat Vrydag bekend sou wees, vertraag is en dus, sal dit eers die week aangekondig word. Intussen is die verhogings, wanneer hulle aangekondig word, terugwerkend tot 1 Julie. Ander plaaslike owerhede wat verhogings aangevra het sluit Kalkrand, op 25 persent in, Keetmanshoop met 8 persent, Mariental op 9,9, Osire met 12,3 en Oshakati op 10 persent.