Man sterf in Zambezi ná buffel-aanval
‘n Man is dood nadat hy glo deur ‘n buffel by die Mbowe-nedersetting by Kabbe-Suid in die Zambezi-streek aangeval is. Kisco Sitali, die Namibiese polisie se woordvoerder van die streek, het die voorval vandag bevestig en die oorledene geïdentifiseer as die Zambiese burger Mubyana Mukwale. Hy het glo Woensdag die huis verlaat om mieliemeel saam met ‘n vriend te koop, waarna hulle later plaaslike shebeens besoek het. Die vriend het egter Donderdag op Mukwale se liggaam in ‘n kanaal naby sy nedersetting afgekom. Volgens Sitali stem die oorledene se beserings ooreen met dié van ‘n buffel-aanval en sy liggaam is na die Impalila-kliniek se lykshuis vervoer.