Griekeland besig om stryd teen veldbrande te wen

In Griekeland kom minder veldbrande vandag voor nadat dit vir bykans twee weke lank verwoesting gesaai het. Die nooddienste het maatreëls ingestel om te keer dat brande in die sentrale deel van die land opvlam. Talle mense kon betyds padgee by ‘n ammunisie-depot in Magnesië waar kragtige ontploffings naby die kusdorp Nea Aghialos voorgekom het. Die minister van verdediging, Nikos Dendias, het ‘n ondersoek na die voorval gelas. Die brande wat vyf lewens geëis het, het op 17 Julie uitgebreek en is aangeblaas deur stygende temperature en stormsterk wind. Huise, plase, fabrieke en woude is die afgelope twaalf dae vernietig.