Emmy-toekennings uitgestel weens Hollywood-stakings

Die Akademie van Televisie en Kuns-wetenskappe het aangekondig dat vanjaar se Emmy-toekennings, wat in September sou plaasvind, weens die stakings in Hollywood uitgestel is. Die toekennings vereer prestasies in die televisiebedryf. Lede van die skrywersgilde, sowel as die akteursgilde, staak oor die wyse waarop tegnologie hulle salarisse beïnvloed. Dit is die grootste arbeidsoptrede in die bedryf in ses dekades. Stakende lede kan nie werk nie, en kan gevolglik nie enige publisiteit vir projekte doen, of toekenningsplegtighede bywoon nie. Die akademie het nog nie ‘n nuwe datum bekend gemaak nie, en organiseerders sê hulle sal wag tot ‘n ooreenkoms bereik is.