Burgerlugvaart-owerheid het kommer oor moontlike vervalsing July 27, 2023

Die uitvoerende direkteur van die Namibiese Burgerlugvaart-owerheid, Toska Sem, sê die nuus oor vervalste dokumentasie in verband met die Robinson R44 helikopter is kommerwekkend, al is die voorkoms daarvan uiters skaars in die plaaslike lugvaartbedryf. Sem sê die aantygings word baie ernstig opgeneem omdat die bedryf aan die hoogste standaarde moet voldoen. Die noodlottige ongeluk het op 17 Julie in Swakopmund tydens ‘n toetsvlug plaasgevind en die week het Antje Nauhaus in die hof verskyn op klagte dat dokumentasie in verband met die helikopter vervals is. Haar saak, wat klagtes van strafbare manslag insluit, is tot 2 Oktober uitgestel en sy bly in aanhouding. Sem wou nie kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie en sê die ondersoek moet eers voltooi word voor ‘n verklaring uitgereik sal word.