President van Niger deur soldate aangehou
President Mohammed Bazoum van Niger word volgens berigte deur soldate van die presidensiële wag aangehou in wat moontlik ‘n poging tot ‘n staatsgreep is. Volgens bronne is die President in gesprek met die ontevrede soldate wat tot dusver weier om terug te staan. Talle lande hou die situasie fyn dop. Niger is ‘n sleutel-bondgenoot van verskeie Westerse lande wat die verspreiding van militante se invloed in die streek probeer bekamp. Frankryk en Amerika het sterk militêre bande met Niger, wat nou nog belangriker is weens die gebeure in die naburige Mali. Die VN-vredesmag is besig om uit Mali te onttrek, wat noue verhoudinge het met Moskou en Rusland se Wagner-magte.