Nampol-hoof se ongeluk-dossier na Ondangwa-aanklaer gestuur
Die Namibiese polisie het bevestig dat die ondersoek na die noodlottige ongeluk waarin inspekteur-generaal Joseph Shikongo in die Noorde betrokke was, afgehandel is. Nampol se adjunk-hoof, generaal-majoor Elias Mutota het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die dossier reeds aan die aanklaer van die landdroshof op Ondangwa oorhandig is. Die aanklaer sal gevolglik die saak aan die aanklaer-generaal stuur, wat dan sal beslis of die saak vir vervolging oorweeg sal word of nie. Drie jong mense het in die ongeluk op 30 Desember verlede jaar gesterf in ‘n tromp-op-botsing tussen hul voertuig en Shikongo se privaat bakkie op die pad tussen Oshikango en Ondangwa. Shikongo het blykbaar vier operasies ondergaan en 10 dae in die intensiewe sorgeenheid deurgebring, maar kritiek is uitgespreek oor hoe die saak hanteer is.