Leerder pleeg glo selfmoord oor gesteelde sakkie vleis

Nóg ‘n leerder het selfmoord gepleeg, hierdie keer glo oor ‘gesteelde n sakkie vleis. ‘n Graad 10-leerder by Iilyateko Gekombineerde Skool van die Oshikondailongo-nedersetting het selfmoord gepleeg by die Oshihau-nedersetting in die Omusati-streek. Volgens die Namibiese polisie is die 19-jarige leerder by ‘n mark glo deur die vleisverkoper betrap toe hy ‘n sakkie vleis steel, maar hy het weggehardloop. Die voorval het Sondagmiddag omstreeks drie-uur plaasgevind en sy lewelose liggaam is sowat drie ure later gevind waar hy aan die tak van ‘n mopanieboom gehang het. Geen selfmoordbrief is gevind nie en geen gemene spel vermoed nie. Sy naasbestaandes is van sy dood ingelig. Sy liggaam is by die Onesi-gesondheidsentrum se lykshuis en sal na die Okahao-polisielykshuis vervoer word vir nadoodse ondersoek. Volgens die onderwysministerie het 13 leerders en 24 onderwysers verlede jaar selfmoord gepleeg.