Beurtkrag duur voort, brand by Grootvlei geblus
Eskom sê weens meer stukkende eenhede en ‘n verlies aan opwekkingsvermoë, sal beurtkrag hierdie week steeds toegepas word. Fase drie is vyfuur vanoggend tot vieruur vanmiddag van krag, gevolg deur fase vier tot môreoggend vyfuur. Van vyfuur af tot vieruur op Dinsdag en daagliks daarna sal fase twee-beurtkrag ingestel word, gevolg deur fase vier tot vyfuur die volgende oggend. Hierdie patroon sal voortduur tot verdere kennisgewing. ‘n Brand het Sondag by die Grootvlei-kragstasie uitgebreek, wat geblus kon word. Eskom se tussentydse woordvoerder, Daphne Mokoena, sê opwekkingseenhede by kragstasies in Mpumalanga is weer in werking gestel.