Opruiming en herstelwerk begin ná Jozi-ontploffing
City Power in Johannesburg sê hy is op ‘n gereedheids-grondslag om met skadeberaming en herstelwerk te begin op die toneel van Woensdagmiddag se ontploffing in die middestad, sodra die toneel deur die Johannesburgse nooddienste veilig verklaar is. Inwoners en ondernemings rondom Breëstraat is sedert die ondergrondse gas-ontploffing sonder elektrisiteit of water. Een persoon is in die ontploffing dood en 48 is beseer. Johannesburg Water het 25 chemiese toilette, vyf stilstaande watertenks en vier mobiele watertenks in die gebied ontplooi. ‘n Woordvoerder van City Power, Isaac Mangena sê spanne is gereed en hulle hoop om vandag nog te begin met pogings om kragtoevoer te herstel.