Egpaar by lodge buite Kamanjab deur gewapende rowers aangeval
Die eienaars van Ann’s Lodge en -Kampeerterrein, geleë sowat 1,25 kilometer wes van Kamanjab, is deur drie gewapende rowers aangeval, aangerand en beroof. Die rowers het glo die heining geknip, met ’n bandhefboom die staal-agterdeur oopgebreek en so toegang tot die huis gekry. Hulle het die egpaar in hul slaapkamer met pistole oorval waar hulle en hul drie hondjies vas geslaap het. Die 61-jarige man is erg geskop en met ‘n metaalpyp geslaan. Die rowers het met die bandhefboom die kluis oopgebreek en juwele, kontant van 5 000 Namibiese dollar, twee bankkaarte, drie selfone, sewe pare vroueskoene, asook die hele CCTV-kameraboks, gesteel. Boere in die omgewing het spoorgesny om die misdadigers te help vastrek. Hulle is van mening dat die aanval goed beplan was. Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinspekteur Elifas Kuwinga, het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat nog geen verdagtes in hegtenis geneem of gesteelde goedere teruggevind is nie.