Duisende vlug van brande van Griekse eiland Rhodos
Duisende mense moes uit huise en hotelle op die Griekse eiland Rhodos vlug terwyl veld- en bosbrande op groot dele van die eiland woed. Meer as 3 500 mense moes na veiliger plekke verskuif word en drie hotelle in die Kiotari-gebied is volgens berigte deur ‘n brand beskadig. Die eiland sukkel sedert Dinsdag om die veldbrande te blus wat deur sterk wind aangeblaas word, te midde van ‘n hittegolf in Europa. Vyf helikopters en 173 brandbestryders werk om die brand onder beheer te bring, terwyl bote in privaat besit die Griekse kuswag help om mense op strande aan die ooste van die eiland op te tel en na veiligheid te neem. Weervoorspellers verwag dat dié naweek Griekeland se warmste naweek in Julie in 50 jaar kan wees. Tientalle brande woed ook nog in ander dele van die land, insluitend ‘n gebied wes van die hoofstad, Athene.