Agt lede van Mashatile se BBP-eenheid gaan vervolg word

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat in Suid-Afrika sê die agt lede van die polisie se BBP-beskermings-eenheid wat vroeër vandeesmaand afgeneem is terwyl hulle drie mans op die N1 tussen Johannesburg en Pretoria aangerand het, sal vanmiddag in hegtenis geneem word. Dit volg nadat die direkteur van Openbare Vervolging magtiging vir die inhegtenisnemings gegee het. Die beamptes was verbonde aan adjunkpresident Paul Mashatile se beskermings-eenheid. Hulle is geskors terwyl Opod die voorval ondersoek het. ‘n Woordvoerder van Opod, Robbie Raburabu sê die agt beamptes sal by die Sandton-polisiestasie aangehou word tot hulle na verwagting môre in die Randburgse landdroshof sal verskyn.