Passasierskepe mag nie meer in Amsterdam vasmeer
Die stadsraad van Amsterdam in Nederland, het ‘n verbod ingestel, waarvolgens passasierskepe nie meer in die hawestad mag anker gooi nie. Dit is volgens berigte deel van pogings om besoekergetalle in te perk, en besoedeling te verminder. Gevolglik gaan die sentrale plesierbootterminaal gesluit word. Dit is die jongste poging van die stad om die groot toevloei van toeriste te beperk. Daar is onlangs ‘n verbod ingestel op die gebruik van dagga op straat in die sogenaamde rooiligdistrik, en die raad het ook in Maart ‘n veldtog van stapel gestuur waarin Britse mans aangemoedig word om nie hulle rampartytjies in Amsterdam te vier nie. Sowat 20-miljoen toersite besoek die Nederlandse hoofstad elke jaar.