Laer inflasie het invloed op rentekoers
Die Suid-Afrikaanse rand het ‘n paar sent verswak, maar is nog onder 18 rand teenoor die Amerikaanse dollar nadat die inflasiesyfer vir Junie vir die buurland vandag uitgereik is. Vanoggend het die geldeenheid, waaraan die Namibiese dollar gekoppel is, met ‘n paar sent verbeter en op 17 rand 84 sent gestaan. Die inflasiesyfer het ‘n belangrike invloed op wat die Reserwebank môre oor die rentekoerse gaan besluit. Gewoonlik is ‘n hoë inflasiesyfer positief vir die rand, omdat dit rentekoersverhoging impliseer, en andersom. Die laer inflasiesyfer het die rand teen elf-uur tot 17 rand 92 sent laat verswak. Die rand se sterkste vlak die afgelope jaar is 16 rand tien sent in Augustus verlede jaar en sy swakste vlak is 19 rand 92 sent wat einde Mei bereik is.