Ietermagô-smokkelary onder die loep, syfers verstom
Die onwettige handel met ietermagô’s duur voort in Namibië. Volgens die jongste nasionale verslag oor wildmisdaad, is daar in 2015 sewe beslagleggings op die diere gedoen, met 21 in 2016, 63 in 2017, 89 in 2018, 130 in 2019, 75 in 2020, 87 in 2021 en 40 in 2022. Nes met ander wildmisdaad, is die voltooiing van hofsake die grootste uitdaging met byvoorbeeld net 90 persent van 2015 se sake wat tot op hede afgehandel is. Die Kavango Oos-, Oshana-, Ohangwena en Otjozondjupa-streke meld die meeste gevalle aan. Regoor die wêreld is die ietermagô die diertjie waarmee daar meeste onwettig handel getref word. Navorsing in China, wat die wêreld se grootste verbruiker van ietermagô-skubbe is, toon dat tussen 2008 en 2019, was daar 326 beslagleggings met ‘n totaal van 223 ton skubbe, en 31 676 diere wat gevind is. Dit is gelyk aan 143 130 ietermagô’s.