As tegnologie, kommunikasie vandag haak, hier’s hoekom…July 17, 2023

Kragtige sonvlamaktiwiteit word vir vandag voorspel wat met kortgolfkommunikasie kan inmeng. Dit is volgens Russiese wetenskaplikes nadat drie sogenaamde sonvlamme Sondag op die son waargeneem is. Die Fedorov Instituut vir Toegepaste Geofisika in Moskou sê klas X-sonvlamme is moontlik, insluitend protonvlamme, en daar word verwag dat kortgolf-radiotoestande sal versleg. X-klas sonvlamme is die grootste ontploffings in die sonnestelsel en kan langdurige stralingsstorms tot gevolg hê. Protonvlamme is ‘n storm van sonenergie-deeltjies, wat hoofsaaklik uit protone bestaan. Sonvlamme vind plaas wanneer die kragtige magnetiese velde in en om die son weer verbind. Hulle kan die aarde se magnetiese veld beïnvloed met die potensiaal om satelliete en kommunikasietoerusting te beskadig. In 2022 het ‘n geomagnetiese storm wat veroorsaak is deur ‘n groot uitbarsting van straling van die son 40 toe nuut gelanseerde SpaceX-satelliete uitgeslaan.