Rugby: Etzebeth lei wel die Springbokke op die veld

Rugby: Eben Etzebeth sal die Springbokke in die Rugbykampioenskap-kragmeting môre teen die All Blacks in Auckland op die veld lei. Die 31-jarige slot se deelname aan die toets was in die weegskaal ná die nuus van sy pa, Harry, se dood. Die Springbokke se media-bestuur Zeena Isaacs het aan internasionale nuusagentskappe bevestig dat Etzebeth sal speel. Hy is die keuse gegun om by die span te bly of huis toe te gaan. All Black-afrigter Ian Foster het intussen meegevoel met Etzebeth betuig, terwyl kaptein Sam Cane ook gesimpatiseer het. Suid-Afrika en die All Blacks draf teen mekaar uit ná skitterende oorwinnings in hul aanvangs-wedstryde teen onderskeidelik Australië en Argentinië.