Kremlin waarsku Westerse lande

Die Kremlin het weer gewaarsku dat Westerse lande se ondersteuning aan Oekraïne ‘n fout sal wees en ‘n bedreiging vir Russiese veiligheid kan inhou. Dit volg na die Navo-beraad in Litaue waartydens G7-leiers ‘n langtermyn ooreenkoms met Oekraïne oor sy veiligheid aangegaan het. Dié ooreenkoms sluit in militêre en ekonomiese ondersteuning, in ‘n poging om Russiese aggressie hok te slaan voordat Oekraïne by die Navo aansluit. Intussen is minstens twee mense beseer in ‘n Russiese hommeltuig-aanval oornag op die Oekraïnse hoofstad, Kiëf. Militêre amptenare sê sowat 20 hommeltuie wat in Iran vervaardig is, is in Kiëf se lugruim afgeskiet. Dit was die derde agtereenvolgende nag van aanvalle op die hoofstad, en volg ure na die einde van die Navo-beraad.