VSA, Brittanje herbevestig steun aan Oekraïne
Die Amerikaanse President Joe Biden en die Britse eerste minister Rishi Sunak, het albei hul steun aan Oekraïne herbevestig. Die twee leiers het ‘n vergadering by Downingstraat 10 gehad in aanloop tot die Navo-beraad wat van vandag af in die Litause hoofstad Vilnius gehou word. Die twee leiers het tydens hul vergadering ook verwikkelinge in Noord-Ierland bespreek. Sunak sê hulle het ook ingestem om Swede se Navo-toetrede te verseker en kunsmatige intelligensie veilig te ontwikkel. Intussen sê Buckingham-paleis Biden se eerste ontmoeting met koning Charles sedert sy kroning, was hartlik en suksesvol.