Noodlottige ongeluk by Arandis tussen vragmotor en bakkie
‘n Noodlottige kop-aan-kop-ongeluk het op die B2-pad naby Arandis tussen ‘n vragmotor met vraghouers en ‘n enkelkajuit-bakkie met ‘n sleepwaentjie plaasgevind. Volgens die hoof-woordvoerder van die Namibiese polisie, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, was die ongeluk as gevolg van beperkte sigbaarheid wat veroorsaak word deur die huidige winderige weerstoestande regoor die land. Sy sê die aantal slagoffers moet nog bepaal word. Nampol reik ‘n waarskuwing aan alle motoriste uit om versigtig te bestuur of reise uit te stel weens die erge winde in die meeste dele van Namibië, wat lae of geen sigbaarheid op nasionale paaie veroorsaak.