Presidente van Oekraïne en Pole herdenk Poolse slagoffers ondanks verskille

Die Oekraïnse President Volodimir Zelensky en sy Poolse ampsgenoot, Andrezei Duda, het ‘n gesamentlike diens bygewoon te nagedagtenis aan die dood van duisende Pole tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dié gebeure waartydens Oekraïnse nasionaliste die Pole doodgemaak het, is ‘n blywende bron van spanning tussen die twee lande wat nou bondgenote is. Die slag van Wolhynia op 11 Julie was een van die bloedigste dae in die tydperk tussen 1943 en 1945. Die Poolse parlement sê die aanvalle onder aanvoering van Stepan Bandera kom neer op volksmoord, maar Oekraïne aanvaar nie dié beskrywing nie. Albei lande sê egter die gesamentlike herdenking is ‘n stap in die regte rigting.