Frankryk verbied verkoop, besit en vervoer van vuurwerke

Frankryk het die verkoop, besit en vervoer van alle vuurwerke verbied om die publiek te beskerm tydens Bastilledag-feesvieringe. Die eerste minister, Élisabeth Borne, sê dit is gedoen as ‘n maatreël om ernstige voorvalle te voorkom ná die onrus wat verlede maand uitgebreek het oor die dood van die 17-jarige Nahel M wat by ‘n padblokkade deur die polisie in Nanterre noodlottig gewond is. Die het gelei tot die ergste stedelike geweld in bykans 20 jaar, en hernieude beskuldigings van rassisme onder Franse veiligheidsmagte. Bastilledag word jaarliks gevier ter herdenking aan die Franse Revolusie, meer as 200 jaar gelede, en vuurwerke is tradisioneel deel van dié nasionale vieringe. Die verbod geld egter nie vir Vrydag se amptelike vuurwerk-vertonings nie.