Rugby: Springbok-afrigter kondig groep van 21 aan wat na NZ reis

Rugby: Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, het ‘n groep van 21 spelers aangekondig wat vanmiddag na Nieu-Seeland sal vertrek. ‘n Groep van 14 spelers is reeds in dié land vir Saterdag se toets teen die All Blacks. Nienaber het die groep aangekondig ná afloop van gister se oorwinning van 34-12 oor die Wallabies op Loftus Versfeld in Pretoria. Die groep wat reeds in Auckland is, sluit in die kaptein, Siya Kolisi, en die stut Gerhard Steenekamp. Die groep wat vanmiddag vertrek is onder andere gister se kaptein, Duane Vermeulen as agtsteman, die stutte Steven Kitshoff en Frans Malherbe, die haker Bongi Mbonambi, losskakel Manie Libbok, senter Lukhanyo Am, skrumskakels Cobus Reinach en Grant Williams en die vleuel Kurt-Lee Arendse.