Groei van kredietverlening in privaat sektor verlangsaam

Gordels word stywer ingetrek weens finansiële toestande ná die repokoers-verhogings van 400 basispunte sedert Desember 2021. Die groei van kredietverlening in die privaat sektor het in Mei vanjaar tot 1,5 persent jaar op jaar verlangsaam, vergeleke met 2,6 persent in April vanjaar. Dit is die laagste groeikoers sedert Januarie verlede jaar. Krediet wat aan huishoudings verleen is, wat 56 persent van die totale krediet in die privaat sektor uitmaak, het met 0,4 persent op ‘n maandelikse grondslag gegroei, wat neerkom op jaarlikse groei van 5,2 persent in Mei vanjaar. In die vorige maand het huishoudelike krediet met 5 persent op ‘n jaar-grondslag gegroei, volgens Simonis Storm.