Boorwerk begin by TotalEnergies se Venus-put
TotalEnergies het boorwerk aflandig van die suidelike kus begin met die Deepsea Mira-boortuig wat onlangs aangekom het. Die boorkontrak het ‘n vaste duur van 300 dae met twee onuitgeoefende opsies wat die termyn deur die hele 2024 kan verleng. Odfjell Drilling het die tuig voorberei en na Namibië gemobiliseer en verskaf ook operasionele bestuur vir die duur van die kontrak. TotalEnergies se Venus 1X-put in blok 2913B is blykbaar ‘n beduidende vonds van meer as 13 miljard vate olie wat moontlik ontgin kan word. Deepsea Mira sal weer vloeitoetse in Venus 1X uitvoer met die doelwit om die Venus-reservoir verder te evalueer en dinamiese data te lewer. Die akkumulasie sal ook in blok 2912 ondersoek word om ‘n begrip van die struktuur en reservoirkwaliteit te gee. Die blok beslaan sowat 7 884 vierkante kilometer in waterdieptes van 3 000 tot 3 900 meter.