Bus-ongeluk in Suide eis een lewe, vier beseer
‘n Bus-ongeluk op die B1-hoofweg ongeveer 50 kilometer vanaf Noordoewer op pad na Grünau, het die lewe van die 50-jarige passasier, Linus Kornelius Endjala, geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag het die bestuurder van die bus beheer daaroor verloor nadat die linker-voorband gebars het, die bus die pad verlaat en teen ‘n brug gebots het. Die 48-jarige Namibiese bestuurder en drie passasiers is in die Karasburg-hospitaal opgeneem nadat hulle ernstige beserings opgedoen het. Na bewering is dit ‘n militêre bus van die Namibiese weermag en die bestuurder is van strafbare manslag aangekla.