Man met leeubeendere in bagasie op OR Tambo vasgetrek

‘n Man is op die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg in hegtenis geneem nadat leeu-beendere in sy bagasie gevind is. Kaptein Bonnie Nxumalo, woordvoerder van die Valke, sê die 43-jarige verdagte is in hegtenis geneem toe sekuriteitsbeamptes verdagte items in sy bagasie ontdek het. Die Valke het die man se bagasie oopgemaak, waarop leeu-beendere gevind is. Hy was glo op die punt om op ‘n vlug na Viëtnam via Qatar te klim. Polisie het op buitelandse valuta, selfone en twee paspoorte beslag gelê. Tydens die voorlopige ondersoek is gevind dat dit die karkasse van vyf leeus is wat in sy bagasie gevind is. Die verdagte sal aangekla word vir die onwettige handel in wild, die besit van leeubeendere en die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteit.