Duikboot-slagoffers se liggame dalk nooit gevind
Die Amerikaanse kuswag sê hoewel dit te vroeg is om te sê presies wanneer die Titan-duikboot ingeplof het, is daar aanduidings dat dit gebeur het terwyl dit Sondag besig was om af te sak na die Titanic-skeepswrak. John Mauger van die kuswag sê die posisie van die wrakstukke wat gevind is, is relatief na-aan die Titanic se wrak, wat daarop dui dat die inploffing Sondag plaasgevind het. Die Amerikaanse vloot het intussen ook bevestig dat ‘n ontleding van sy akoestiese data aandui dat daar waarskynlik Sondag ‘n inploffing of ontploffing was. Die kuswag sê dit is onmoontlik om te bepaal of die slagoffers se liggame ooit gevind sal word. Afstandbeheerde onderwater robotte sal egter voortgaan met die herwinnings-operasie om alle bewysstukke op die seebodem bymekaar te maak.